LIEF VIR MA
30 Maart 2026
Lief vir Ma
Hierdie foto is geneem in die Richtersveld, hoog bo die Oranjerivier, op ’n nag waar ek vir my ma ’n eenvoudige boodskap gestuur het:
“Lief vir Ma.”
Die storie agter die beeld
Die foto is geneem in 2022, tydens ’n nag waar ek doelbewus die sterrehemel wou vasvang.
In 2022 was ek vir vier maande weg van die huis. Drie van daardie maande het ek in Robertson, in die Langberg-distrik van die Wes-Kaap, gebly.
Ek het my tyd aan time-lapse en landskapfotografie gewy — veral landskap-astrofotografie, waar die naghemel en landskap saam in een beeld vasgevang word. Dis iets waaroor ek later in ’n opvolgende blog meer sal skryf.
Maar onder alles was daar net ’n behoefte om weg te wees — om te kyk en te skep.
Na drie maande het ek besluit om huis toe terug te keer. My ma was toe 87 jaar oud en het al die tyd alleen by die huis gebly.
Op pad Richtersveld toe, Garries-omgewing — 2022
Ek het die terugreis ’n maand lank geneem. Stadig. Deur die Cederberg, die Weskus, en toe verder deur die Noord-Kaap. Ek het tyd geneem — nie net om te ry nie, maar om te wees.
Die ruwe berge van die Richtersveld, sonop — 2022
Ek was vier jaar tevore, in 2018, al op dieselfde plek gewees — hoog op die koppe langs ’n 4x4-roete naby die Oranjerivier.
Daardie eerste besoek het iets in my losgemaak. Dit het my laat teruggaan.
Hierdie keer met die doel om die naghemel vas te vang.
Die Oranjerivier, op die grens van Suid-Afrika en Namibië — 2018
Ek onthou dit helder. Ek was alleen, hoog bo die rivier, omring deur stilte en landskap. Dis die tipe plek waar tyd stadiger beweeg. Waar mens se gedagtes harder praat as die wind.
Maanopkoms oor die Richtersveld — 2022
Dit was een van daardie oomblikke waar ek op my gelukkigste was.
Toe die son sak en die nag finaal insak, het die emosie my oorweldig. Nie hartseer nie — iets stiller. Iets dieper.
Daar was geen selfoonopvangs nie, maar ek het aan my ma gedink. Ek het gewonder wat sy doen. Of sy al slaap. Of sy alleen voel.
Ek het vir haar ’n boodskap gestuur.
Dit was seker om en by tien-uur die aand.
“Lief vir Ma.”
“Wild camping” langs die Oranjerivier — 2022
My bestemming was eers twee dae later in Klein Pella, waar daar weer sein sou wees.
Met min slaap het ek daar aangekom — en toe wag ’n boodskap van ons buurvrou. Dringend. Sy wou weet of alles reg is met my. My ma het haar gebel omdat sy my nie in die hande kon kry nie.
Die ironie is dit: alhoewel daar geen opvangs was waar ek gesit het nie, het die boodskap tog êrens tussen daardie bergtop en Klein Pella deurgegaan.
Die waarheid is, ek was nooit iemand wat maklik gesê het “ek is lief vir jou” nie. Maar wanneer ek dit gesê het, het ek dit bedoel.
Hierdie oomblik dra meer as wat gesien kan word.
Nie net die sterre nie.
Nie net die landskap nie.
Maar daardie een eenvoudige sin wat, sonder dat ek dit besef het, harder gepraat het as enigiets anders.
Halfmens
Halfmens, Richtersveldberge — 2018
Die boom in die foto is Pachypodium namaquanum — beter bekend as die halfmens, of olifantstam.
’n Sukkulent wat net hier in Suider-Afrika voorkom, in die ruwe, rotsagtige berge van die Richtersveld en suidelike Namibië.
Dis ’n plant wat oorleef waar min ander kan. Reënval is skaars en somertemperature kan tot 50 °C styg. Tog groei die halfmens stadig en staan hy meestal alleen.
Met ’n dik, geswolle basis en ’n stam vol skerp dorings vernou hy na bo. Van ’n afstand af lyk hy soos ’n mens wat teen ’n helling op stap — en dis waar die naam halfmens vandaan kom.
Nie heeltemal mens nie.Nie net plant nie.
Iets tussenin.Iets wat dra, eerder as wys.
Soos die halfmens
Die lewe is nie altyd sag nie.
Ons dra almal dinge uit die verlede — pyn, swaarkry, oomblikke wat ons gevorm het lank voordat ons dit kon verstaan.Maar wanneer mens leer om dit te dra,
om na binne te kyk en vrede te maak met wat was,
en jou oë op jou Verlosser te hou,
Staan jy weer regop —
met vrede, en met dankbaarheid.
Dis hoekom hierdie boom my aan my ma laat dink.
Sy was eenvoudig.
Taai.
Onafhanklik.
Blue hour ,Richtersveld — 2022
Sy het min nodig gehad om regop te bly. Haar geloof was haar wortel — stil, standvastig, sonder uiterlikheid of ekstremiteit. Elke oggend Bybel gelees. Gebid. Sonder geraas.
Toe kanker deel word van haar laaste dae, het sy dit nie gevrees nie. Sy het die swaarkry aanvaar en besluit dis die pad wat sy sou stap.
In haar geloof het sy geweet die dood is nie ’n einde nie, maar ’n verlossing — ’n plek waar sy beter af is as hier.
Sy het nooit gekla nie. Sy het haar sente omgedraai. Luuksheid het geen waarde vir haar gehad nie.Water moes gespaar word — elke druppel.
Sy het haar huis self skoongemaak, self in die tuin gewerk, en tot die einde onafhanklik gebly.
Haar grootste wens was om in haar eie huis te sterf, nie in ’n hospitaal nie.
Daarom is hierdie boom nie net deel van die toneel nie.
Hy dra die betekenis van die beeld.
Halfmens onder die Melkweg Richtersveld — 2022
Vir Ma
Rus in vrede.
Ek is innig dankbaar.
Ek mis Ma meer as wat Ma ooit sou kon dink.
Ek is jammer dat ek dit nie altyd gesê het nie — en vir die muur wat ek tussen my en my gevoelens gebou het.
Ek wens vir net nog een dag saam — om die vrae te vra wat ek nooit gevra het nie, en te deel wat ek nooit gedeel het nie.
Ek glo Ma is nou op ’n wonderlike plek, saam met Ma se Skepper.
Dankie vir die geleentheid.
Ons paaie sal beslis weer kruis.
Lief vir Ma.
Ester Corolina Ollewagen
01 Junie 1935 — 13 Januarie 2026